Die weg na ‘n gesonde, soepel lyf
Dit is weer tyd om aktief te begin oefen. Skielik sien jy hulle oral mense wat hardloop, in die gimnasium oefen, hul dyspiere strek… Dis nou almal behalwe jy. Jy’t gehoor jy sal fisiek én emosioneel beter lyk en voel. Boonop verlang jy na ‘n sterk, soepel en gesonde liggaam. Maar waar begin jy? Die blote vraag oor waar en hoe om te begin is genoeg om jou af te skrik. Gelukkig het die maniere waarop jy kan fiks word, saam met die bewustheid oor fiksheid en gesondheid toegeneem.

Daar is honderde verskillende maniere en elkeen maak daarop aanspraak dat hy beter is as die volgende. Dié verskeidenheid verwarrende keuses is genoeg om jou te oorweldig. Wat nodig is, is ‘n program wat al dié metodes sal integreer. Elke oefenprogram het iets om te bied, maar nie almal kan jou alles bied waarna jy soek nie. ‘n Kombinasie van oefenprogramme lei tot ‘n vollediger oefenprogram as wanneer jy een volg en die ander uitsluit. Maar onthou: Jou program moet altyd basiese fiksheid insluit.

Om teen die moontlike risiko van beserings of die gevare van te veel oefening te waak moet die program stadig begin en stelselmatig meer van jou verg namate jou fiksheid toeneem. Dit neem ‘n volle ses maande om fiks te word en om ‘n pap, onfikse liggaam na ‘n soepel, fikse een te verander. Jy soek moeilikheid as jy van plan is om kortpad te kies. Die oefenmanie mag dalk fiksheidsvlakke verbeter het, maar mense met sportbeserings het ook al meer geraak. Die gejaag na fiksheid is altyd selfvernietigend. Oefen teen ‘n matige tempo en onthou gesonde oefening beteken nie jy moet iemand anders klop nie dis belangriker om die lui, ongeinspireerde deel van jou persoonlikheid te wys wie’s baas! Onthou ook steekpyne is waarskuwings dat jy versigtig moet wees, nie uitdagings wat jy moet oorkom nie.

Begin vandag. Namate jy fikser raak, sal jy ál meer bewus word hoe ‘n fikse liggaam voel en wat jou persoonlike fiksheidsbehoeftes is. Jy sal nie net fiks, sterk en soepel voel nie, maar ook baie selfvertroue hê. En jy sal weet jy kán goed na jou self kyk. Én jy doen die regte oefening. Dít is tog wat fiksheid is. Begin vandag met ‘n oefenprogram en volg dit, indien moontlik, elke dag óf minstens drie maal per week, maar nooit nadat jy ‘n groot maaltyd geëet het nie. Probeer ‘n gereelde oefentyd vasstel dit is makliker om die program aan te hou volg as dit deel van jou normale roetine is. Dra gemaklike klere waarin jy sonder moeite kan beweeg. ‘n Leotard, sweetpak, frokkie en oefenbroekie is goed, maar ‘n lospassende T-hemp en ‘n fietsrybroek kan ook vir dié doel gebruik word. As jou knieë swak is en maklik seerkry, kan beenkouse nuttig wees.

Daar is twee redes waarom ‘n goeie postuur eerste kom dit bepaal jou vorm en verseker dat jy die regte spiere oefen én dit help jou om die meeste van jou oefening te maak. As jy voorheen vertel is ‘n goeie postuur beteken maag in en bors uit, dan is jy verkeerd ingelig. ‘n Goeie postuur begin by die agter- en nie die voorkant van jou liggaam nie en word deur ‘n natuurlike verlenging van die rugwerwel veroorsaak. Jou ruggraat bepaal grootliks jou vorm, omdat dit via die skedel, skouers, ribbekas en pelviese gordel met elke liggaamsdeel kommunikeer. As dié posisie reg is, sal alles van bo na onder outomaties in lyn kom. Voel ‘n bietjie hoe dit voel om met ‘n reguit ruggraat, gesakte skouers en ‘n gesentreerde bekken te staan, terwyl jy jou gewig balanseer. Strek opwaarts en geniet dié gevoel. Asemhaling ***

Goeie asemhaling is die sleutel tot suksesvolle oefening en dit stel jou in staat om na die beste van jou vermoë te werk. Boonop hou asemhaling ‘n verskeidenheid voordele vir jou hart en algemene gesondheid in. Net so min as wat ons ons harte moet leer klop, hoef ons te leer asemhaal maar ons moet wel leer hoe om ons asemhalingsorgane na die beste van ons vermoë te gebruik. Dít sluit die twaalf paar ribbe en die betrokke spiere in. Jou postuur moet reg wees as jy jou ribbekas reg wil gebruik. As dit nie is nie, sal geen asemhalingsoefening ter wêreld help nie.

Net wanneer die ruggraat reguit is en die borskas gelig is, het die borskas die vryheid wat nodig is om suksesvolle asemhaling te verseker. Verskeidenheid is ‘n belangrike deel van fiksheid. Die sleutel is om dít te kies wat jy die meeste geniet, want dán sal jy ontdek dat dit ál makliker raak om tyd vir oefening te maak. Slegs dan raak oefening iets waarna jy uitsien en geniet. Én iets wat jou laat goed voel. Draf is eenvoudig en goed vir die liggaam én die gees. Jy het nie veel meer as ‘n goeie paar drafskoene nodig nie. Boonop is draf een van die doeltreffendste maniere om fiks te word. Begin deur vinnig en flink te stap. Onthou om altyd vir tien minute met strekoefeninge op te warm én af te koel om die bloed na die spiere te laat vloei en hulle teen latere seer te beskerm.

Verseker ‘n prettige drafsessie deur saam met ‘n vriend of vriendin te gaan draf of by ‘n klub aan te sluit. Gebruik jou draftyd om van al die daaglikse probleme en spanning ontslae te raak en fokus jou aandag op die oomblik. Voel hoe jy kalmer raak terwyl jy draf. Fietsry is pret en ‘n heerlike manier om te oefen as jy van die buite lug hou, omdat dit jou êrens bring terwyl jy fiks word. Begin deur stil roetes te verken en bly binne ‘n redelike afstand van die huis. Moenie in die verkeer ry totdat jy selfvertroue in jou fietsry-vermoë ontwikkel het nie. Onthou om met jou bene fiets te ry en haal onnodige stremming van jou rug af. Onthou ook om op te warm en af te koel.

Swem is een van die beste maniere om fiks te word terwyl jy ontspan. Water verwyder stremming op die bene en spiere en verminder só die kans op beserings. Dit hou jou koel en vry van sweet. Swem is nét die ding as jy oorgewig en swanger is.

Superbodies Gym facilities include the following :
Cardiovascular Equipment , Circuit Training, Weight / Resistance Training, Step Aerobics, Zumba, Toning, Boot Camp, Tae-Bo, Pilates, Steam Rooms, Supervised Instruction, Air-conditioned, Independent Personal Trainers Available. Their trained instructors are always on hand to assist you with your training and exercise program and programs are tailored to suit your specific needs.

Margate
Tel: 039 317 2949